In 1989 het meer as 300 000 Chinese soldate met tenke en gewere na die Tiananmenplein in Beijing opgeruk om sowat 1 miljoen studente en ander, wat politieke vryheid geeis het, op die mees bloedige wyse te onderdruk.
In 1989 het die ANC se opmars na ‘n demokratiese Suid-Afrika die ou Apartheidsregering uiteindelik teen die planke gehad.
In 1989 het die huidige Dalai Lama die Nobel Vredesprys ontvang.
Die Chinese faciste is steeds wat hul was en staan op die punt om aan die studente van Hong Kong te doen wat hulle in 1989 in Beijing gedoen het.
Die Tibetaanse heilige is steeds ‘n vegter vir mense se vryheid.
Niemand weet meer wat die ANC is nie, maar hulle is nie wat hulle in 1989 was nie – dalk was hulle al in 1989 nie wat hulle gesê het hulle is nie en het die trogvreters in wegspringblokke gestaan nie om die volk te bevry nie, maar om hulle sake vol te stop.
As die ANC-regering ‘n rede wou hê om aan die Dalai Lama ‘n visum te gee om die saamtrek van Nobel Vredepryswenners in Kaapstad by te woon sou hulle dit gevind het in Mandela se voorstelling van die Party in 1989 en daarna.
As die ANC is wat dit was is dit in die party se DNA om ‘n visum aan die Dalai Lama te gee.
Met ‘n gedeelde DNA waarin Jean Jacques Rousseau se “liberté, égalité, fraternité” ingebrand is behoort die ANC die Dalai Lama te steun in sy strewe na vryheid vir alle mense. Meer nog as die ANC is wat hy was sou dit saam met die Dalai Lama ‘n logiese teenpool van die fascistiese kommuniste van China wees.
Deur ‘n visum aan die Dalai Lama te weier het die ANC aangetoon dat sy DNA onherkenbaar verander het en dat hulle bloot ‘n mutasie van die ou NP geword het. Daar is geen aanduiding dat die ANC minder magsmal, moreel bankrot en onderdrukkend as die Apartheidsregime was nie.
Die ANC stry lank nie meer vir die vrywording van onderdruktes aan die hand van onderdrukkers nie en is die bedmaat van internasionale muishonde wat PW Botha en sy lot soos Vader Kersfees laat lyk.
Dit is nie die eerste maal dat die ANC sy ware kleure wys nie.
Deur met Robert Mugabe, Hamas en Vladimir Poetin te verkeer het die ANC hom bewys as ‘n vyand van die onderdruktes van Zimbabwe, Palestina en die Oekraïne.
Die ANC se vriende klink en lyk soos diegene wat kriewel en stink in die dieptes van die New Jersey slukmoeras.
Dit is reg dat die Nobel vredesbrigade besluit het om saam te staan en die saamtrek te boikot.
Dit is jammer dat Desmond Tutu, FW de Klerk, Kaapstad en Patricia de Lille seerkry, maar daar is geen logika daarin dat die vredespryswenners Suid-Afrika as ‘n plek van vrede sal vereer terwyl die land se nommer 1 die Dalai Lama verkleineer en die menseregte skenders in China aanbid nie. Soos in die Apartheidsera is Suid-Afrika nie ‘n normale samelewing nie en sal normale sake soms wyk.
Die ANC verdien die virtuele snotklap en so doen die massas van Suid-Afrika wat vir Zuma en sy rampokkers gestem het. Kritiek op die ANC tydens die saamtrek sou nie naastenby die regering so in die bek geruk het as die afstel daarvan nie.
Dit was tyd dat die wêreld duidelik uitstippel dat hulle die ANC nie langer met bevryding vereenselwig nie en al lyk die regering onaangeraak oor die saak bloei hulle.
China is in sy noppies, maar na dese sal die Weste toenemend wys dat hul geen werklike ooghare vir Suid-Afrika het nie. Hulle sien en hanteer die land reeds soos hulle met Afrika doen: ‘n verlore kontinent met ‘n irriterende regering.
Die ANC is effektief besig om Suid-Afrika ter wille van China van die redelike wêreld te issoleer.
Die vraag is waarom?
Is dit omdat Suid-Afrika nie meer vanuit Pretoria bestuur word nie, maar vanuit Beijing?
Waarskynlik.
Daar is groter losheid tussen Taiwan en die Volksrepubliek van China as tussen laasgenoemde en Suid-Afrika.
Dit is duidelik dat die ANC iets weet en veral kry wat die res van die res van ons nie doen nie.
You must be logged in to post a comment.